Wat maak mens lief vir die taal waarin jy praat, droom en liefkry? Vir die meeste van ons is die antwoord waarskynlik so voor die hand liggend dat niemand homself die vraag ooit afvra nie: jy is in jou taal gebore – van ouers wat albei die taal gepraat het en daarmee groot geword het.
Ek kan dit nogal nie sê nie. Ek het êrens op die pad na mens word die taal as my eie aangeneem en daarvoor lief geword. Ek is deur ‘n Duitse moeder - so uit die hart van Berlyn - in Namibië in die lewe gebring toe die land meer Duits as enigiets anders was. Ofskoon my pa Afrikaanssprekend was, is ek en my broers na my ouers se egskeiding deur ons Duitse oupa en ouma op Usakos, ‘n minuskule gehuggie op die rand van die Namib grootgemaak. Ek was nog nie eens twee jaar oud nie.
So het ons as klein Duitsertjies in Afrika grootgeword: Duitse huis; Duitse kerk (wat ons nie dikwels van binne gesien het nie!); Afrikaanse laerskool waar die Afrikaanse kinders ons as die “blerrie Duitsers” gebrandmerk het. Dit was nie die beste teelaarde om ‘n liefde vir Afrikaans by my te kweek nie!
Maar êrens tussen daardie kinderjare en my breinspoelingsjare in die weermag, het ek proper Afrikaans geword. Die grootste bydrae hiertoe het sekerlik van verskeie wonderlike onderwysers gekom wat my aan die mooi van hierdie taal voorgestel het. Hulle het by my die liefde vir die woord gekweek en my aangemoedig om soos ‘n vakman met die taal om te gaan. Ek het reeds op skool volslae op skryf verlief geraak en alles wat met my gebeur het in opstelle en gedigte vergestalt.
Een van hierdie mense was Mev Gous wat vir my Engels op die Hoërskool Etosha in Tsumeb aangebied het. Sy was ‘n boervrou met ‘n wonderlike kennis en deernis vir die Engelse taal en letterkunde en ek het gulsig hierdie passie by haar oorgeneem. Net so het Gerd Günzel vir my aan die Duitse letterkunde voorgestel: aan die groot geeste soos Goethe, Schiller en Heine wat my lewe en my taal (Afrikaans) daarna so dikwels beïnvloed het.
Daar het jy dit: uit die smeltkroes van Afrikaans en sy voorsate – insluitend Nederlands – het ek ‘n groter deernis vir hierdie taal van Afrika ontwikkel. Glo ek aan die voortbestaan van Afrikaans? Ja, veel meer as toe dit nog deur apartheid en sy strukture vir ons met wetgewing beskerm is. Ek het geen greintjie twyfel daaraan nie dat hierdie taal vandag sterker op sy eie bene staan as in die vyftigs en sestigs – al is so baie van daardie Afrikaanse bene vandag beduidend donkerder as toe!

4 Comments