Jou sente, jou drome, jou klere vol gate,
gee jou hart vir Hillbrow
- Johannes Kerkorrel
Elke keer as ek die eensame trekklavierklanke hoor wat Johannes Kerkorrel se stem saamdra in hierdie pynlike mooi stukkie sielsnostalgie, ruk dit gate in my hart oop. Hoeveel van ons oueres wat die ou Hillbrow van Fontana, Café de Paris, die Goblet, die ou binnenshuise swembad, Milky Lane en Ciro’s, loop nog op die strate rond en soek daarna?
Ons jong troepies wat in 1969 na ons uitpasseringsparade op Heidelberg skielik offisiere was, het in Ciro’s se lanie restaurant in Hillbrow ons bevorderings gaan vier en die ‘helse lot pyn’ gaan haal waarvan Kerkorrel sing. Ciro’s was grand; baie grand. Ek onthou hoe ek laat daardie nag deur my pelle van die vleuelklavier onder die wenteltrap weggeskeur moes word ... en ek kon geen noot speel nie! Ek wou net voel hoe dit is om daar te sit en die crowd te vermaak.
Op meer sober dae het ek menigmaal op Saterdagoggende die verleidelike Franse koffie in Café de Paris gaan geniet – meestal vingeralleen, want dis hoe Hillbrow op sy lekkerste was. Buite die imposante ingang op die sypaadjies het ek toe reeds die eerste tekens van verval en die ellende wat met haweloses, junkies en straatvroue saamgaan gesien, maar binne-in die Café met sy dik blou tapyt en boudoir stoele het ek daardie goed skaamteloos weg gedroom en ryk gevoel.
Daar het ek hulle kopie van die Rand Daily Mail gelees terwyl ʼn stokou Joodse omie op die vleuelklavier Joplin en Chopin respekvol gemeng het met Duitse en Franse kabaret. Ou manne met leesbrille, sakemanne in snyerspakke, tannies met pers hare en baie 4711 aan hulle beduidende boesems en hippie-agtige digters met John Lennon brilletjies het almal ewe gemaklik gehelp om die atmosfeer te skep. In Hillbrow was die gees van Woodstock tasbaar en werklik.
Nog later, in roekeloser jare, het ek met vriende ons manlikheid beproef in die rooi fluweelsale van die Summit Club waar kaalgat danseresse, aanvanklik beskeie met nipple caps en deurtrekkertjies, ons banaal onthaal en verlei het. Baie van ons het hier later in die nag en met die aanmoediging van baie wyn en sigaretrook, self die verhoë aangedurf en die sexy meisies toegelaat om óns die objekte van die dronkes se fantasieë te maak. Hulle het ons klere stuk-stuk uitgetrek en dit met flair in die skare ingegooi waar dele daarvan sommer weggeraak het. Héél kaal was nie toegelaat nie, maar wie weet waar die grense soms getrek is? Ek onthou hoe ʼn vriend by een geleentheid sy verlore sokkie die volgende oggend in sy onderbroek ontdek het.
Maar Hillbrow het ook filosowe gehad wat ure lank in die smal gangetjies in Estoril Bookshop gestaan en gesit het om lewenswysheid uit dieper bronne as die straatkaffees en die sypaadjies te trek. Vandag nog ruik ek die mengsel van muwwe rook en opgeleeste boeke van Hillbrow se winkel as ek in die moderner weergawes van Estoril in Johannesburg rondloop.
Op Sondagoggende het die blaasorkes van die Salvation Army hulle hartseer koperklanke skraperig die stegies ingestuur terwyl toegewyde stryders van Christus kos aan die armes uitgedeel het. En op die hoek van Pretoria- en Pleinstrate het ʼn eensame Hare Krishna met sy C-Max-oranje gewaad die spulletjie bewoë gestaan en gadeslaan.

1 Comment