Daar is ook die ander helfte: hier plaas hulle ewe grusame beeldmateriaal van die misdadigers wat in die slag gebly het met die helder boodskap: “Hierdie donder gaan dit nooit weer doen nie.” Die nuutstes is die verbrande liggame van kabeldiewe wat hulle met die lewende krag vergis het en doodgeskok en verkool is. Selfs foto’s van slagoffers van motorongelukke raak gewild, hetsy dood of lewendig, maar verkieslik erg verniel met afgeskeurde ledemate, baie bloed en gapende wonde.
Dit wil vir my voorkom asof hulle hoofsaaklik een van twee oogmerke hiermee het:
(1) hulle het die siek begeerte om na sulke goed te kyk en dit aan ander te wys (om te skok?) of
(2) hulle dink regtig dat dit mense sterker teen plaasmoorde, misdaad oor die algemeen of roekelose bestuur gaan opmaak.
Wel, Vriend, jy is op albei verkeerd.
- As jy in die eerste kategorie val en hieruit kicks kry wil ek jou nie as vriend op sosiale media hê nie. Jy is ʼn siek mens met ʼn erg versteurde sin van waardes. Jy is die domste drol; cheers, jy is unfriend.
- As jy in die 2de kategorie val, het jy ernstig hulp nodig. Ek sal jou selfs help om die hulp te kry. As jy egter daarmee voortgaan is jy ook geskiedenis en gaan ek jou ook unfriend.
Ek en baie ander mense wil nie hierdie materiaal sien nie. Ek het ʼn oordosis daarvan in die werklike lewe as jong polisieman gehad. Dis juis in daardie rol wat ʼn kollega vir my eendag die foto gewys het van ʼn ou man wat homself met ʼn haelgeweer onthoof het om die lyding van sy kanker te beëindig. Hy het op ʼn bankie in sy tuin op die plaas in die Noorde van Namibië gesit; asof rustig… maar sonder sy kop; die haelgeweer nog in sy lewelose hande. Daar was egter één aspek waarvan my kollega nie bewus was nie: die ou man was my eie Oom en ek het die rou en smart van sy nagelate weduwee maar te goed verstaan en deur my ouers beleef.
Dit laat mens met die afgryslike werklikheid: die kanse is toenemend beter dat die nagelatenes en geliefdes van slagoffers daardie foto’s eendag self gaan sien. Dink net vir een oomblik daaraan voordat jy verder lees.
Jy het seker ook nog nooit daaraan gedink dat ons kinders en kleinkinders ook op Facebook is nie en dat hulle een of ander tyd die beelde gaan sien. ʼn Goeie vriend van my in Engeland glo dat dit vir die kinders goed is: “I want my little boy to grow up knowing that along with all the wonder and laughter of our humanity there exists an unfortunate reality that is also part of that humanity,” sê Roger.
Ek betwyfel dit glad nie. Is blootstelling aan hierdie materiaal egter die enigste manier om van die donker kant van ons menswees bewus te word? Moet ons nou die video-materiaal van ISIS se onthoofdings en die moorde op gay mense vrylik uitsaai sodat almal daaruit kan leer? Kan ek en my familie op geen ander manier die bose wêreld leer ken as om dit eerstehands waar te neem nie?
Ek sien nie daarvoor kans nie en ek gaan geen kind hieraan blootstel nie. Om die waarheid te se, ek spaar selfs my vrou sulke beelde waar ek enigsins kan: nie omdat sy nie hierdie goed mag weet nie, maar omdat sy dit wragtag nie nog hoef te sien ook nie. Van hierdie goed is grusaam genoeg om mense se lewens blywend negatief te beïnvloed.
So, hier is my ultimatum aan elkeen van julle op my bladsye: as jy dit doen gaan ek jou unfriend al is ek hóé lief vir jou as mens; finish en klaar. Ek gaan vir jou lief bly en nice wees en vir jou gelukkige verjaarsdae toewens en selfs jou begrafnis eendag bywoon (en jy is welkom by myne as ek eerste sou groet), maar ek gaan nie toelaat dat sulke negatiewe energie my lewe of die van my vriende en familie op Facebook besoedel nie.